youtube-video-thumbnail

Jou huis is hier

‘n inisiatief  deur Solidariteit Helpende Hand en Boerboel

Solidariteit Helpende Hand is deur die handelsmerk, Boerboel, genader om ’n inisiatief van stapel te stuur wat diepte aan die Boerboel-handelsmerk sal bring en terselfdertyd ook vir ’n goeie doel sal staan. Dit sal vir hul teikenmark en Helpende Hand-ondersteuners iets bied wat meer patrioties en ernstig is, om sodoende ’n gevoel van behoort, vryheid, selfdoen en gemeenskapskrag te beklemtoon.

Helpende Hand is graag betrokke by die enkelsnit, Die RSA is in my DNA, van JAN JAN JAN omrede óns boodskap by Helpende Hand en die boodskap van dié lied duidelik oordra dat jy hier hoort en dat jou huis hier is. Dít is die belangrikste boodskap van hierdie lied.

Ons plek is in Suid-Afrika. Dit is ons geboorteplek, dis die plek van ons herkoms en dis ook die plek van ons toekoms.Ons is hier gebore en dit is hier waar ons leef, werk en ons roepings uitleef. As ons sê Suid-Afrika is ons huis bedoel ons dat die land ons hart en ons tuiste is. Ons lewe lê in Suid-Afrika, nie op ʼn ander plek nie. Dit is die doel en betekenis van hierdie lied en dit is juis hoekom Helpende Hand saamwerk om hierdie lied die land in te stuur.

Om trots te wees op jou taal en jou kultuur en selfs jou land, kan soms in hierdie hedendaagse wêreld ’n bietjie uitdagend wees, maar hierdie drie manne stel ons almal gerus met hulle nuutste enkelsnit dat die RSA in ons almal se DNA is en so ook dan die titel van hierdie lied:
Die RSA is in my DNA.

Dit vertel ’n storie van ’n volk wat al vir eeue lank aan die suidpunt van Afrika saai en bou met moed en vertroue soos hulle al deur vuur en oorloë geteister is, maar nie gebreek kan word nie, want met ’n stam so taai soos dié van die waboom en hulle oë na Bo gerig sal hulle bly voortbou in hierdie land wat hulle liefhet.

Selfs al word daar gesê dat hul herkoms vêr Noord van hier af lê, weet hulle dat hierdie land nou deel van hulle DNA is en dat hulle dit sal beskerm met alles binne hulle vermoë.

By Helpende Hand glo ons ook in die konsep van selfdoen en volg ons dus dié voorbeeld regdeur die Solidariteit Beweging met die hutsmerk, #OnsSalSelf. Die pad na selfbestuur word in al die instansies se visie en missie binne die Solidariteit Beweging opgesom. Die waardes van God eerste, vir die gemeenskap vanuit die gemeenskap en onafhanklikheid van die staat streef ons na in ons alledaagse roeping en ons voortbestaan.

Dit is dus vir ons vanselfsprekend om netwerke met handelsmerke, vennote en vriende van die Beweging te vorm om hierdie #OnsSalSelf-doel en -roeping uit te leef en in gemeenskappe te vestig. Deur hande te vat met die handelsmerk, Boerboel, en die musikante, JAN JAN JAN, wil ons saam ’n verskil maak en welstand verseker.

Helpende Hand handhaaf maatskaplik gebaseerde gemeenskapsontwikkeling en ons doel is om welstand binne die kwesbare groepe naamlik kinders, bejaardes, persone met gestremdhede en gesinne te verseker. Dit is vir ons belangrik om na die holistiese welstand van die mens te kyk en dus poog ons om na fisiese, geestelike, kulturele en sosio-emosionele welstand van die mens om te sien en dit te bevorder.

Kyk hier na die dokumentêr saam met JAN JAN JAN

youtube-video-thumbnail

MAAK VANDAG 'N VERSKIL

RSA in my DNA Logo-03
Boerboel Vertical Logo-01